13 June 2007
Daar is drie lyne wat
ek volg: die eerste een is ek reeds mee besig (omdat my pa op die
oomblik vir tien dae by my is) en die ander twee sal ek (een vir een)
aanpak sodra hy na my broer toe gaan.
Die strek van die gedagtes is as volg:
Daar is heelwat instansies waar die wêreld soos sy was reeds vernietig
is vir individue en groepe. Dit is nie nodig vir my om na die einde van
my wêreld te travel om te sien hoe hierdie eindes verwerk word nie.
Hulle is reeds hier by my: My pa se geheue wat elke dag minder vashou
het is 'n einde van die wêreld wat hy geken het juis omdat hy dit nie
kan onthou nie. Sy 'self' lei aan 'n erosie wat amper nie beskryfbaar
is nie. Tien dae met my pa is dus die eerste werk in ondersoek. Die
persoonlike einde wat aanhou nadat die einde reeds gebeur het.
Die tweede lyn wat ek sal aanpak wanneer ek klaar is met die verwerking
van 'tien dae', kyk na die dieretuin as metafoor vir wesens wat
oorlewendes is terwyl hulle habitat totaal vernietig is, sommiges die
enigste oorblywende 'eksemplare' van hulle hele spesie. Ek het 'n
gedagte dat ek dalk 'speelgoed' vir die diere sal wil maak, want ek het
een oggend baie vroeg gesien hoe van hulle speel, aangesien daar niks
is om te doen nie. The 'form' that contains an action/meaning... Hier
is nog baie dinkwerk wat moet gebeur, maar dit sal kom wanneer ek daar
is. Ek dink dit kan baie goed werk.
Die derde lyn is meer langtermyn, maar pas die maklikste in by 'FACE'
se profiel: daar is honderde vlugtelingskinders in Johannesburg. Hulle
kom vanoor die hele Afrika, veral die DRC, Rwanda en Burundi, maar ook
Zim, Ethiopië, etc. 'n vlugtelingskind wat derduisende kilometer gestap
het sonder ouers of enige iemand wat hulle ken, wat oorleef in lande
waar hulle nie eers die taal kan praat nie, het duidelik by trans_end
uitgekom. Ek het die boekie 'Suitcase Stories' nou die dag raakgeloop,
en ek weet Erica werk met daardie kinders. Op die stadium het ek geen
idee hoe dit in kuns gaan omskep nie, maar ek wil kyk of ek vir hulle
van nut kan wees.
