critique
.
home invite studio white_cube critique dictionary
 
 
~ ~ ~ ~ ~
content >

Die Godin en Aardverwarming >
Louise du Toit, 2007
Die basiese hipotese wat ek voorhou is dat die Joods-Christelike grond waaruit die Westerse samelewing gegroei het, ‘n simboliese orde of universum is, wat nie net ‘n baie groot aandeel gehad het in die totstandbring van die globale omgewingskrisis waarin ons nou verkeer nie, maar dat belangrike elemente binne hierdie denkstroom apokalipties met die krisis omgaan, en die apokalips selfs moontlik aktief bevorder, aangesien hulle die vernietiging van die aarde sien as deel van God se plan.

Presented for the first time at the
FilosofieKafee at Café Riche at Church Square in Pretoria,
South Africa,  27 July 2007.

Uploaded 11 Oct 2007
www.trans-end.org.za


  Die godin en aardverwarming

Hierdie is ‘work in progress’. Dis uiters sketsmatig gedoen en sonder die nodige bron-ondersteuning. Ek versoek dus vriendelik dog dringend dat u nie skriftelik uit hierdie teks sal aanhaal nie. ’n Akademies verantwoorde weergawe van dieselfde basiese gedagtes sal later gepubliseer word. Baie dankie!

Vanaand se voordrag poog om ‘n paar beginpunte te verskaf vir nadenke oor die tema ‘die godin en aardverwarming’, eerder as om ‘n duidelike, omvattende en bykans waterdigte teorie of ‘tealogie’ aan te bied. Wat hier volg is dus verkennende gedagtes van iemand wat nog maar omtrent ‘n jaar lank oor hierdie onderwerp gedink en gelees het.

Aardverwarming is ongelukkig nie meer maar net ‘n effens vergesogte hipotese nie. Ons beleef elke dag dat die pole en gletsers vinniger en vinniger smelt, dat gemiddelde temperature dramaties styg, en dat natuurrampe soos veral vloede, orkane en droogtes al hoe meer gereeld voorkom, en dan beleef ons ook gereeld via die media en andersinds dat bekende én onbekende mense hul stemme begin dik maak om teen hierdie mensgemaakte globale krisisse te protesteer. Reeds in die 90erjare het minstens een Afrikaanse sanger al geprotesteer teen die vernieling van Moeder Aarde en gewaarsku teen ‘die son wat al hoe feller begin brand’. ‘An Inconvenient Truth’ van Al Gore het al miljoene mense bereik en beïnvloed. Die terme ‘aardverwarming’ en ‘klimaatsveranderinge’ het deel van ons daaglikse woordeskat geword. Behalwe miskien vir af en toe ‘n verdwaalde komeet, is daar min dinge wat ‘n apokaliptiese verwagting en atmosfeer oproep soos aardverwarming en al die rampe wat oënskynlik daarmee gaan saamhang. Die grootste ramp wat skynbaar verwag word, is die mens se finale uitwissing van sy / haar eie bestaansvoorwaardes. Daar het waarskynlik al vyf verskillende massa-uitsterwings van tot 90% van alle destyds bestaande spesies plaasgevind gedurende die aarde se leeftyd. En dan volg die vraag natuurlik: gaan die menslike spesie die eerste een wees (sover ons weet) wat sigself gaan uitroei en tot so veel as 90% van alle spesies gaan saamvat in die vergetelheid in? In my onmiddellike kring beleef ek dat skoolkinders oor die algemeen ‘n ingekorte toekomsverwagting het, ‘n naby horison. ‘n Oriëntering van leef vir die oomblik word geskep wanneer die toekoms so donker word en dit lyk asof lewe op aarde al hoe moeiliker gaan raak vorentoe. Om alles te kroon, lyk dit asof Afrika weer eens die ergste en eerste geraak gaan word op maniere wat droogte en hongersnood inhou. Enigeen wat ‘n lewensverwagting van nog so 40 jaar of meer het, miskien veral jonger mense, of wat kinders het met daardie soort lewensverwagting, voel met reg beangs wanneer hulle aan die toekoms dink. Daar is ‘n verwagting dat die toekoms onherkenbaar gaan word, of onmenslik, of eenvoudig gaan verdwyn. Self gaan ek deur fases waarin ek snags wakkerlê met vrese oor die toekoms van veral my kinders, maar dan ook van die aarde as geheel. Niks wat ek tot dusver gesê het behoort vir u nuut of vreemd te wees nie.

Maar wanneer ons frases begin gebruik soos die einde van menslike lewe op aarde of die vernietiging van die bestaansvoorwaardes van alle soogdiere, is dit asof ons verbeeldingsvermoë ons in die steek begin laat – ‘the mind boggles’. En hierdie apokaliptiese verwagting lei omtrent altyd daartoe dat mense ‘n religieuse of eskatologiese betekenis aan sodanige moontlikheid koppel. Ek hoor dikwels mense sê dat die natuurrampe wat ons beleef ‘tekens van die tye’ is, waarmee hulle gewoonlik bedoel dat die wederkoms van Christus naby is. Dis omdat ons hier te make kry met een van wat Karel Jaspers genoem het die grenssituasies van die menslike bestaan. Hy sê (Jaspers, 1954: 20): ‘There are situations which remain essentially the same even if their momentary aspect changes and their shattering force is obscured: I must die, I must suffer, I must struggle, I am subject to chance, I involve myself inexorably in guilt’. Vir Jaspers is hierdie ekstreme situasies, tesame met verwondering en twyfel, die waardevolste bronne vir filosofiese aktiwiteit.

Maar waar die grenssituasies vir Jaspers universeel menslik is, is ons die eerste generasie wat die sterk moontlikheid in die gesig staar van mensgemaakte uitwissing van alle menslike lewe (of die tweede, indien die na-oorlogse generasie met hul kernbomme in ag geneem word). Dit blyk een van die dringendste filosofiese (maar ook natuurlik politieke, sosiale, en morele) opgawes van ons era te wees om sin te probeer maak uit hierdie bedreiging, en natuurlik ook om na oplossings te soek – met laasgenoemde wat meer lê op die terrein van die natuurwetenskappe en tegnologie. Die oefeninge van sinverlening en ‘oplossing’ wil ek ter wille van helderheid uitmekaar hou, vir verskeie redes. Eerstens omdat hulle inherent verskillende oriënterings tov die werklikheid verteenwoordig. Trouens, die onderskeid word dikwels in ‘n gespesialiseerde samelewing opgehef met die effek dat ons al meer dinge kan regkry sonder om meer te weet waartoe hierdie vermoëns moet dien (m.a.w. met ‘n gepaardgaande verdringing van die sinsvraag en sinstigting). Hierdie is dan ook die rede waarom ‘n suiwer tegnologiese oplossing vir aardverwarming (soos waarvoor Richard Branson en Al Gore ‘n reuse-beloning uitgeloof het – ek dink hulle verwag iets soos ‘n reuse-koolstof-stofsuier) vir my gevoel wel wonderlike resultate mag hê, maar nie ‘n blywende oplossing kan bied vir dit wat misgeloop het in die verhouding tussen die mens en die natuur nie. Die Global 2000 Report stel dit soos volg: ‘...once such global environmental problems are in motion they are difficult to reverse. In fact few if any of the problems addressed in the Global 2000 Report are amenable to quick technological or policy fixes; rather, they are inextricably mixed with the world’s most perplexing social and economic problems’ (Grim, 2001: xvi) en dan ook: ‘Ignorance of religion prevents evironmental studies from achieving its goals, ... for though science and technology share many important features of human culture with religion, they leave unexplored essential wellsprings of human motivation and concern that shape the world as we know it’ (Grim, 2001: xii – xiii). Daarom, al spring ons dan wonderbaarlik die massa-uitwissing deur aardeverwarming vry, dan bly ons arm aan sin en armoedig in ons beleefde realiteit, en dan sal ‘n volgende omgewingskrisis ook nie uitbly nie. ‘n Tweede rede waarom hierdie twee dimensies, naamlik sinskepping en tegnologiese oplossing mbt aardverwarming onderskeie moet bly (alhoewel hulle natuurlik nooit heeltemal geskei kan word nie) is omdat my eie bydrae tot die debat (minstens vanaand) bykans uitsluitlik in die domein van sinskepping lê eerder as in die domein van ‘oplossings’ vir ‘n imminente krisis. Sinskepping en –herskepping is geneig om baie stadiger te verloop as tegnologiese vooruitgang, veral indien dit gemeet word aan die tempo waarteen grondige, nuwe idees inslag vind by groot groepe mense. Ek vermoed een van die redes hiervoor is die verbeeldingskrag en herverbeeldingskrag asook –wil wat ontbreek by baie mense, maar ook dan die houvas wat heersende sinsparadigmas dikwels op mense se denke en verbeelding het, veral op die kollektiewe en die gedeelde. Dit is eenvoudig nie vir mense lekker om nie te behoort nie.

Die basiese hipotese wat ek voorhou is dat die Joods-Christelike grond waaruit die Westerse samelewing gegroei het, ‘n simboliese orde of universum is, wat nie net ‘n baie groot aandeel gehad het in die totstandbring van die globale omgewingskrisis waarin ons nou verkeer nie, maar dat belangrike elemente binne hierdie denkstroom apokalipties met die krisis omgaan, en die apokalips selfs moontlik aktief bevorder, aangesien hulle die vernietiging van die aarde sien as deel van God se plan. Die Joods-Christelike bronteks begin met ‘n werklikheid sonder ‘n aarde, maar met ‘n God wat in die donker rondsweef en dan uit niks uit ‘n aarde skep waarop hy plante, diere en mense op afsonderlike dae skep – plante, diere en mense is dus almal verskillende tipes entiteite. Die mense, die enigste deel van die skepping ‘na God se beeld’ word dan op die aarde ‘geplaas’ om dit namens God te bestuur. God self is een, enkel en manlik, en is op grond van ons verhaal totaal verhewe bokant die aarde en die aardse, hy kom kuier soms hier maar woon nie hier nie – en algaande volgens die bronteks handhaaf hy ‘n al kleiner teenwoordigheid hier.

Dus, ten spyte van sekularisering, die Verligting, en so meer, is die westerse wêreldbeskouing ingebed in ‘n bepaalde metafisies-religieuse raamwerk en denkpatroon, of dit nou erken word of nie. ‘n Bepaalde godheid en teologie kan gerym word met die geskiedenis van die weste, en ander nie. M.a.w. ‘n bepaalde metafisika onderlê en legitimeer en pas telkens weer aan by die geskiedenis van die weste: die ontwikkeling van wetenskap en tegnologie; kapitalisme; individualisme; kolonisering en globalisering; liberalisme. Só dominant en omvattend is hierdie wêreldbeskouing en gepaardgaande teologieë, dat ons verbeelding ons in die steek laat as ons ons iets anders probeer voorstel. En tóg, die eksklusiewe, manlike monoteïsme wat die drie wêreldgodsdienste van vandag kenmerk, bly ‘n anomalie in die geskiedenis van die mensdom. Globale omhelsing van hierdie god of minstens van sy huishoudelike reëls, sy ekonomie en politieke inrigting, en sy basiese waardestelsel, lei tot baie bepaalde uitsluitings en sinsverarming – ‘n gevaar wat verstaan en vermy word deur die meeste nie-westerse metafisiese raamwerke.

Ons ken Freud (1932: 34 – 39) se hipotese in Moses and Monotheism dat die Egiptiese Jode ‘n abstrakte, etiese, monoteïstiese God by die religieuse anomalie, farao Ikhnaton (1375 vC het hy die troon bestyg), via Moses oorgeërf het. Vir Ikhnaton, vroeër Amenhotep IV, was Aton verhewe bo elke aardse verskynsel – die son was slegs ‘n simbool van ‘n Goddelike Wese wat geen naam het en waarvan ons geen afbeelding kan of mag maak nie. Hierdie Wese, wat hy Aton (die naam van die vroeëre Songod) genoem het, se energie is gemanifesteer deur die son se strale, maar hy is ook bo die son verhewe. Vir Ikhn-aton het hierdie nuwe godsdiens politieke sin gemaak, want hy moes die wêreldmag wat Egipte op daardie stadium was, konsolideer, vanaf Nubia in die suide, tot Palestina, Sirië en ‘n deel van Mesopotamië in die noorde. Volgens Freud is hierdie imperialisme gereflekteer in godsdiens as universalisme en monoteïsme. In een van Ikhnaton se poëtiese gebede of gesange sê hy: ‘O, U, enigste God! Daar is geen ander God as U nie’ – hierdie eksklusiewe monoteïsme wat Ikhnaton ingevoer het was helder, konsistent, hard en onverdraagsaam. Die farao het alle verwysings na Amon, Aton se goddelike voorganger, laat verwyder, alle tempels gesluit, alle aanbidding verbied, en kerklike eiendom gekonfiskeer. Hy het ook die woord ‘God’ van ou monumente laat verwyder oral waar dit in die meervoud gebruik is. Die songod Re of Ra het nog ‘n goddelike dogter gehad, Maat, wat die godin was van waarheid, orde en geregtigheid, maar onder Ikhnaton word Aton die songod verhef bokant die son en hy heers absoluut in ‘n heelal sonder enige ander gode. Voorts het Ikhnaton alle mite, magie en toordery verbied, saam met spreke oor geeste, monsters en Osiris, die god van die dood en die doderyk. Daar is ‘n totale stilte tydens sy heerskappy oor die dood en die lewe hierna – hierdie was vir die Egiptenare die heel bitterste pil om te sluk, omdat Osiris, die Seun-God, baie gewild was, en ook ‘n tussenganger vir mense was tussen hierdie lewe en die volgende (Freud, 1932: 40-41).

Vir Freud is dit veral een aspek van die Joodse godsdiens waardeur Moses die Joodse volk geskep het, wat uniek was en ‘n historiese baken. Dit is naamlik die abstraksie van sy godheid uitgedruk in die verbod teen uitbeelding. Hierdie verbod noodsaak die aanbidding van ‘n onsigbare God – ‘n punt waarop Moses moontlik nog strenger as die Aton-godsdiens was. Moses se God moes geen naam of aangesig hê nie. Vir Freud beteken hierdie verbod die onderwerping van sintuiglike waarneming aan ‘n abstrakte idee; dit was die triomf van spiritualiteit oor die sintuie en ‘n aflegging van instinktiewe optrede. Moses vergelyk dan interessant genoeg hierdie mylpaal in die ontwikkeling van menslike kultuur met twee ander, soortgelyke mylpale, naamlik die ontstaan van taal enersyds en die vervanging van ‘n matriargale samelewingstruktuur met ‘n patriargale een. En dan voeg hy betekenisvol by: ‘This turning from the mother to the father, however, signifies above all a victory of spirituality over the senses, that is to say, a step forward in culture, since maternity is proved by the senses whereas paternity is a surmise based on a deduction and a premiss. This declaration in favour of the thought process, thereby raising it above sense perception, was proved to be a step charged with serious consequences’ (Freud, 1932: 180). In Egipte het die Aton-godsdiens saam met Ikhnaton gesterf, maar die eksklusiewe, abstrakte, etiese en manlike god het voortgeleef in die Jode se godsdiens.Volgens Jack Miles in sy biografie van hierdie god, gebaseer op die Torah, het hy geleidelik verander vanaf ‘n stamgod met ‘n eng belangstelling in die Israeliete tot ‘n internasionale god wat ook allerlei planne met die omringende volke het, en ook vanaf ‘n redelik wispelturige en genadelose god tot ‘n meer vroulike, versorgende god wat homself kan skaar aan die kant van die weduwees en die wese.

Of Plato en Xenophon hulle godsbegrip oorgeërf het van die Egiptenare of nie, binne die antiek Griekse denkwêreld het ‘n soortgelyke godsbegrip ontstaan aan dié van die Skool van die Priesters in die Sontempel by On (Heliopolis), van wie Ikhnaton waarskynlik sy idees oor Aton gekry het. Vir die voor-Sokraat Xenophon was die bestaan van slegs een god logies noodsaaklik, want die woord ‘god’ bevat volgens hom die betekenisse ‘hoogste’ en ‘beste’ en daar kan logieserwys slegs een hoogste wese wees. Plato is effens ambivalent oor die bestaan van een of meer gode, maar hy is ondubbelsinnig in sy keuse vir die prioriteit van abstrakte denke bo sintuiglike waarneming. Regdeur sy geskrifte loop ‘n goue draad van verheerliking van die abstrakte rede oor die konkrete werklikheid en die noue assosiasie van eersgenoemde met die manlike domein en van laasgenoemde met die vroulike. Vir skrywers soos Luce Irigaray en Adriana Cavarero is die Platoniese geskrifte en ook die Griekse mitologie getuigskrifte van wat hulle die antieke moedermoord noem. In hierdie tekste, sê hulle, lê die bloedspoor van die stelselmatige uitwissing van die moeder, en die tekens van pogings om die bloedspoor self uit te wis, want in daardie tydvak is die kriminele daad nog onlangs en die lyk nog warm. Een van die maniere waarop die moeder simbolies vermoor is, is deur die uitwissing van die idée van die vroulikheid of vrou-wees van die goddelikheid. Plato se grotmite is baie goeie voorbeeld van hoe die moederliggaam as oorsprong van alle lewe eers ondergeskik, dan teenoorgesteld aan die vaderlike godheid gestel word en uiteindelik tot totale illusie, fout en verwording verteken word sodat die abstrakte vaderlike beginsel, onsigbaar en tydloos en ver verwyder van alles wat ons kan waarneem, die eintlike en enigste oorsprong van alle lewe en alle singewing word.

Vir Freud is die Christusfiguur Osiris wat terugkeer en Aton finaal verslaan, want die Christendom is vir hom ‘n afgewaterde weergawe van die eksklusiewe monoteïsme van die Jode en veral van Moses. Trouens, Freud beskou die Christendom as ‘n politeïsme – sowel die goddelike Seun as die goddelike Moeder of godin van ouds keer terug en verdring tot ‘n groot mate die abstrakte Vader-god. ‘n Mens sou selfs kon sê Isis en Osiris of Astarte en Baäl neem hulle intrek by die jaloerse oujongkêrel-god Jahwe. In die Christendom keer die onderdrukte idée terug dat god dalk in sekere sin self ‘n seksuele wese kan wees, want sy Seun word immers gebore – iets ondenkbaars in die ou Joodse godsdiens. Freud se lesing maak vir my sin in die lig van ‘n reis wat ek verlede jaar deur Toskane onderneem het. Dit het daar vir my duidelik geword dat die Roomse, stedelike Christendom nie net met hul aansprake oor eksklusiwiteit die Etruskiese, natuurgodsdiens vernietig en oorkom het nie, maar ook sekere aspekte daarvan eenvoudig moes assimileer om te kon oorleef. Vir die Etruske was harmonie tussen die vroulike beginsel (die aarde, die grond, die grotte, fonteine en dies meer) en die manlike beginsel (die son, en die lug) ‘n voorvereiste vir vrugbaarheid, groei en voorspoed. Hulle het ingewikkelde netwerke gekap in die vulkaniese landskap om die water oor en deur die land te laat vloei; water en saad word dikwels gelyk gestel (in die Sumeries word dieselfde woord vir albei gebruik). Die Etruskiese landskap (noord van Rome) is daarom ‘n fantastiese palimpsest van heilige plekke waarop verskillende golwe van Christene hul merke gelaat het, insluitend die vroeë Roomse kerk, die Tempeliers en ander. Ook interessant om te sien is hoe die verskillende stede die Christelike boodskap verskillend gelees het om óf die veraf, streng Vadergod, óf die nabye en versorgende Moedergod te bevoordeel. Rome het byvoorbeeld veel meer klem geplaas of Jesus die gekruisigde jongman en sy verheerliking deur die Vader-God wat bokant of agter hom staan, en ‘n stad soos Siena het weer Maria as ‘n soort beskermheilige vir die stad toegeëien met haar wat regeer en respreek en ‘n klem geplaas op uitbeeldings van Maria as pragtige jong vrou met baba Jesus op haar skoot. Met verskillende interpretasies van dieselfde teks het die stede hulself ideologies teenoor mekaar opgestel. Siena lê geografies ook nader aan die plekke waar die Etruskiese godsdiens oorleef het, tot so ‘n mate dat dit nog so laat as in die tiende eeu n.C. deur ‘n pouslike bul verbied moes word. Ek dink dus dat Freud reg is as hy ‘n soort hergeboorte van die godin in Maria sien, maar katolieke vroue herinner ‘n mens vinnig aan die talle maniere waarop Maria ook gebruik is, nie om vroue te bemagtig nie, maar juis om hulle ondergeskik te stel deur eerder Maria se gehoorsaamheid as haar waagmoed of goddelikheid te beklemtoon. Maria is dus uiters dubbelsinnig en sy bekleë ‘n baie ongemaklike plek in die Christelike pantheon, en dit is verstaanbaar in die lig daarvan dat sy as ‘n soort kompromisfiguur moes dien tussen die Etruskiese en die Romeinse godsdienste. ‘n Geskiedenis waarvan ek min weet, is hoe dit gekom het dat Maria weer uitgewis is tydens die Hervorming sodat sy eintlik glad nie figureer in die Protestantse bewussyn nie, behalwe as die engelagtige, maagdelike, seun-aanbiddende moedertjie by die krip in die stal met Kersfees.

Die feit dat Maria ‘n maagdelike moeder was is oënskynlik van deurslaggewende belang vir die hoofstroom Christelike wêreld. Daar is ‘n byna vanselfsprekende aanvaarding in die tradisie dat Maria ook nooit na haar konsepsie van baba Jesus seks gehad het nie, en as ‘n maagd gesterf het – volgens sommige legendes het sy soos Jesus opgevaar na die hemel eerder as om te sterf. Maar die maagdelikheid van Maria en van Jesus later word in die ideologiese botsing tussen die Romeine en die Etruske van kardinale belang, juis omdat die Etruske die seksuele self as spiritueel, heilig en transendent beskou het. In die nekropoli is skilderye wat die dooies uitbeeld waar hulle vrolik dans en allerlei vorme van seksuele genot beoefen. Dit lyk dus vir my asof dit veral die hardnekkigheid of ‘staying power’ van die Etruskiese natuurgodsdiens was wat aan die vroeë Christendom as ‘n imperiale godsdiens by verstek sekere van sy hardnekkigste eienskappe gegee het. Hierby ingesluit is die onderdrukking van menslike seksualiteit en die tekening daarvan as basies boos en ondermynend, en die onderdrukking van vroulikheid en vroue. Miskien het die halfhartige insluiting van Maria as goddelike figuur dit vir die Christelike kerk nodig gemaak om God die Vader nóg manliker en kwaaier te maak en nog meer van ‘n vrouehater as wat hy sou wees as sy gesag onbestrede was. Oor die Christelike kerk as aktiewe vrouehater soos blyk uit die pouslike uitsprake en ander amptelike tekste deur die loop van 2000 jaar kan u gerus Mary Daly se eerste boek, The Church and the Second Sex, lees. Klaarblyklik is die vrou gesien as die oorsprong van alle kwaad, die oorsaak van die sondeval en ook van Jesus se kruisdood. Reeds in die Joodse godsdiens is vroulike liggame en veral vroulike seksualiteit gesien as die paradigma van die profane waarvan die heilige plekke, dinge, en mense, afgegrens moes word. In die moderne weste het hierdie diepgaande hiërargiese dualismes nie verdwyn deur ons sogenaamde mondigwording en sekularisasie nie. Teenoor die vroulike, die natuur, die ondergeskikte het die ‘redelike man’ sy plek ingeneem met ‘n meesterlike strategie van oorheersing en kolonisering.

Val Plumwood praat in hierdie verband van die ‘meester-subjek’ wie se logika ons almal help vorm het. Sy sê ‘[the master identity] is more than a conspiracy: it is a legacy, a form of culture, a form of rationality, a framework for selfhood and relationship, which, through this appropriation of culture, has come to shape us all’ (1993: 190). Hierdie meester-subjek se logika is een van kolonisering van andersheid en dit is presies hierdie kultuur en rasionaliteit wat gelei het tot die toestand waarin ons planeet vandag verkeer. Dis die westerse verhaal van rede v natuur wat die kolonisering van andersheid begelei en motiveer en goedpraat en wat vandag amper ‘n globale manier van praat geword het – ‘n gelykmakende en vernietigende diskoers. Die meester se kolonisering ontken die ander wat hy natuur noem, op twee maniere, volgens Plumwood: sowel deur self se afhanklikheid daarvan en verhouding daarmee te ontken as deur die onafhanklike bestaan daarvan te ontken en te kanselleer (1993: 191). Hoe meer ek lees en uitvind omtrent voor-, buite- en nie-westerse kulture, hoe meer kom ek onder die indruk van die mate waarin hulle juis gewaak het teen hierdie blinde kol wat toegelaat is om nie net te ontwikkel in die weste nie, maar ook om die dominante denkwyse sowel in die weste as nou byna globaal, te word. Ons godsbegrip, ons mees sentrale, mees dominante konsepsies van goddelikheid soos vervat in die Joods-Christelike tradisie (tot ‘n mate natuurlik ook maar in die Moslemtradisie), maw in die drie dominante manlik monoteïstiese godsdienste, is ten nouste vervleg met die koloniseringslogika van die meester-subjek. Wanneer mense dus heel onskuldig reageer op die simptome van aardverwarming deur daarna te verwys as ‘tekens van die tye’, dan verwoord hulle myns insiens iets van hulle vasgevang wees binne die meesterdiskoers. Vir hulle is die enigste manier om sin te gee aan wat besig is om te gebeur, dat dit binne die groot raadsplan val van die veraf Vadergod wat uit niks die aarde geskep het, wat dit een of ander tyd weer gaan kom vernietig en wat dan vir ons ‘n nuwe aarde gaan gee. Vervleg met hierdie gedagtegang is die idee dat ons mense nie tuis is op hierdie aarde nie, uiteindelik nie hier hoort nie, maar elders, en dat ons waarborg op oorlewing elders en deur alternatiewe middele gesetel is in hierdie godheid self wat vanuit ‘n afstand regeer.

Nou is dit so dat ek onmiddellik die beswaar mag opwek dat nie alle interpretasies van die drie groot monoteïsmes die verhaal op hierdie manier vertel nie, en dat daar pogings aangewend word vanuit Christelik- en Joodsteologiese kringe om ‘n aardevriendelike verhaal te vertel waarin die aarde nie maar ‘n blote tydelike staanplek is nie, maar waarin die aarde en die natuur self tot spirituele gegewens in eie reg verhef word. Dit is waar. Ook vind ‘n mens toenemend feministiese teoloë wat nuwe verhale vertel oor waar vroue en die natuur inpas binne die metafisiese verhale van die weste, en wat dit probeer doen vanuit én teen die brontekste in, maar wat hulself as heeltemal deel van die Christelike of Joodse of Moslemtradisies beskou. Ek het simpatie met hierdie pogings, maar ek ervaar ook iets van ‘n ongeduld daarmee. Die aanspraak wat ek wil maak is dat ons ‘n feminine of the divine benodig om suksesvol ‘n transformasie van menslike bewussyn betreffende die mens se plek binne die natuur te kan bewerkstellig, en met ‘n volronde uitbeelding van enige feminine of the divine is die brontekste geweldig suinig. Dit voel of mens bloed uit ‘n klip probeer tap as jy jou beperk tot die westers-godsdienstige brontekste. In hul ontstaanstydperke sowel as later, veral gedurende kolonisering (wat nog nie opgehou het nie), moes hierdie godsdienste hulself vestig langs en teenoor godsdienste en spiritualiteite wat die feminine of the divine meestal erken het en wat vroue, natuur, seksualiteit en seksuele verskil gespiritualiseer het. Dit klink na ‘n geweldige veralgemening, maar ek dink dis waar, en dit help ons om die idiosinkrasie van ons eie tradisie beter te verstaan. Freud was waarskynlik reg toe hy gesê het dat die keuse vir abstrakte vaderlikheid oor konkrete moederlikheid ‘n mylpaal was in die menslike geskiedenis. Maar hy het dit ook as ‘ontwikkeling’ en ‘vooruitgang’ beskou - as ‘n soort opwaartse beweging na iets beters, in die rigting van god en weg van die aarde. ‘n Mens vind dieselfde soort logika by die moeder van feminisme, Simone de Beauvoir, wat vroulike genitalië beskou as meer diffuus, minder duidelik gedefinieer en daarom nader aan die ‘ongevormde’ natuur, met die manlike genitalieë wat dui op kultuur, op skrif (abstraksie) en op transendensie van die natuur en die vroulike domeine. In hul opgewondenheid om die aardse, die konkrete en die moederlike agter te laat en ‘mondig’ en ‘rasioneel’ te word, vergeet hierdie denkers om te vra watter prys hulle (en moontlik ander) betaal vir hul transendensie, vir hul afwysing van die moeder en hul vergoddeliking van die vaderlike logika. Dit is dus nie vir my vreemd dat die meester-subjek sy gods- en wêreldbeskouing oral moes vestig téén verskillende vorme van aarde-spiritualiteit nie; wat vir my vreemder is, is dat ‘n imperialistiese en koloniserende anomalie soos Ikhnaton se Aton, Moses se Aton-Jahwe en die Romeine se god (wat nou ook abstrakte rede en ‘geloof’ verteenwoordig) uiteindelik oënskynlik globaal geseëvier het ten koste van ‘n voorheen byna universele aarde-spiritualiteit en verering van die vroulikheid van die godheid (meestal in verhouding met ‘n goddelikheid van die manlikheid). Dit is tyd om te vra wat ons verloor het. Tyd om te vra na die prys van wat Plumwood noem die meestersubjek se dubbele ontkenning van wat hy natuur noem. Kan die idee en verbeelding en uitbeelding van die feminine of the divine nie dalk ook nuwe weë open vir manlikheid nie? Wat sal met manlikheid gebeur indien dit ontsnap uit die meester-subjek keurslyf waarin dit vir 3000 jaar vasgevang was? Wat sal met vroulikheid gebeur indien dit nie meer geïnstrumentaliseer word as brute natuur in diens van meestermanlikheid nie? Om ons te help om ons iets meer konkreets voor te stel in hierdie algemene denkrigting, wend ek my nou tot die mite van Inanna die maangodin van Sumerië, waarskynlik die heel oudste mite wat bewaar gebly het.

Vir Marijke Baken (1999: 11) reik hierdie mite beelde van die vroulike en vroulike beelde na ons toe uit, wat ons help om na ‘vergete gebiede’ te reis – individueel vergete en onderdrukte en verlore gebiede (wat ons byvoorbeeld as kinders moes agterlaat), maar gebiede wat terselfdertyd in maatskaplik-historiese sin ‘vergete’ geraak het en uit die patriargale samelewing verban is. Ons reis na die verhaal van Inanna is vergelykbaar met Inanna se eie reis na die doderyk – ook sy ly aan ‘n vae onbehae, beleef ‘n roering in haarself om te gaan verken (Baken, 1999: 11), en soos sy daal ons ook af na dieper lae van ons menswees, laat ons toe dat ons gebore word en weer in die lig gebring word (Baken, 1999: 12). Hierdie beweging van afdaling is ‘n beweging van terugkeer om verbinding te maak met die lewe wat soveel meer inhou as wat ons kan vermoed (Baken, 1999: 12). Terug na dit wat in die donkerte versink het, om dit tot lewe te wek en daardeur verander te word. Volgens Baken (1999: 12): ‘dit is die heilige, helende beweging van die godin, die weg van die vroulike’.

Die kleitablette wat Inanna se mite bevat, dateer uit ongeveer 1750 vC, maar die mite self is baie ouer en is waarskynlik oor millennia mondelings oorgelewer (Baken, 1999: 13). Saam met Ishtar, Astarte, Anahita, Ma, Asherah en Isis dateer die mite van Inanna uit ‘n tydperk toe skrif pas uitgevind is (die Sumeriese spykerskrif is die oudste waarvan ons weet, en dit het omtrent 3000 vC ontstaan), maar toe die patriargale sisteem sig begin vestig het en die ou godinne-verering begin verdring het. Dus, soos die geskrifte van Plato en die Griekse mitologie, bevat die verhaal van Inanna ook spore van die simboliese moedermoord, maar daar is veel meer van die vorige bedeling daarin te bespeur as in die ander tekste. Baken (1999: 76): Inanna se naam beteken ‘koningin van die hemel’ en sy word voorgestel as die groot godin van hemel en aarde. Die ou godinne was lewe-en-dood-godinne, maar in Inanna se verhaal regeer sy oor die hemel en aarde, terwyl haar suster, Ereshkigal, regeer oor die Groot Daaronder. Sy deel haar maankarakter met die groot godinne van die bronstydperk, naamlik Isis en Cybele. Die verbinding van maan en godin is baie oud en die maan se siklus verteenwoordig ook ‘n vrou se lewensloop. Ook Inanna se lewensloop: in haar afdaling na die onderwêreld om haar suster te gaan vertroos, en as vrou wat die wysheid deur kennis van die dood in haar opgeneem het, gee Inanna ten slotte gestalte aan die ou of afnemende maan. En haar suster Ereshkigal is die gelaat van die Donker Maan. In die beeld van die maan is die begrip vasgelê dat lewe en sterwe, groei en ondergang, deel uitmaak van een groot geheel, en dat lewe en sterwe, gees en liggaam, slegs verskillende fases of gestaltes van dieselfde gegewe uitmaak.

Inanna is die godin van die Aarde ook, en daarom van vrugbaarheid: as maanmoeder skenk sy geboorte aan die songod van die plantegroei, sy is sy bruid wat met hom trou, en sy is die treurende vrou wat oor hom rou wanneer hy wegsterf en in die onderwêreld die tyd van hernuwing afwag. Benewens die leeu (wat haar met die neolitiese godin verbind) word Inanna nóú geassosieer met die slang (simbool van hergeboorte en seksualiteit), die skerpioen en die draak, wat almal die onderwêreld en die dood verteenwoordig. Die seun-geliefde word heel dikwels ‘n hemelse stier, bok of ram genoem. Dumuzi, Inanna se eggenoot, was ‘n mens, en koning van die Sumeriese stad Uruk ongeveer in die eerste helfte van die derde millennium vC. Inanna was dus waarskynlik in hierdie tyd en moontlik ook al vroeër, die beskermgodin van Uruk. In dieselfde stad is beeldjies gevind van die neolitiese moedergodin wat dateer uit die 5de millennium vC. Inanna word later die Assiries-Babiloniese godin Ishtar. In Inanna se mite word brood in die tempels gebak en in die huise geëet – volgens Baken (1999: 83) dui dit op ‘n lewenspatroon waarin die heilige nog nie geskei is van die daaglikse nie en waar die alledaagse deurdrenk was van die sakrale.

Nadat Inanna haarself gekroon het en voordat sy op reis gaan om haar toe te rus vir haar taak as koningin van hemel en aarde, gaan sy na die skaapkraal, na die herder, waar sy teen ‘n appelboom leun. Toe ‘was haar vulva pragtig om te bekyk’ en toe, ‘verheug oor haar pragtige vulva, prys die jong vrou Inanna haarself’. Hierdie is in baie opsigte ‘n verstommende deel van die mite. Eerstens sien ‘n mens dat skaapkraal, herder, appelboom, jong vrou en vulva alles beelde is wat met die Sumeriese tradisie se verering van Inanna saamgehang het. Hulle is beelde van lewe, swanger van belofte (Baken, 1999: 84). Inanna put krag en motivering uit haar eie vroulike seksualiteit, aan haar vroulike, lewegewende vermoë. Die vulva so pragtig om te bekyk word nie seksueel geobjektiveer as ‘n skouspel vir ander nie – dit word bloot geniet deur die vrou self, vir haarself, by haarself en tot haarself, tot so ‘n mate dat sy haar daarin verheug, en haarself vir haar skoonheid en prag prys. ‘n Merkwaardig onselfbewuste selfbewuswording van ‘n jong vrou wat nie deur die patriargie gekwes is in haar seksualiteit nie, wat nie daaroor skuldig of vuil of bedreig of bedreigend voel nie, maar wat haar goddelike seksualiteit en seksuele goddelikheid eenvoudig geniet.

Die liefdesange tussen Inanna en Dumuzi is ‘n vermenging en verstrengeling van vroulike en manlike energiestrome (Baken, 1999: 87). Dumuzi skenk sy ryp vrugte aan Inanna en sy stort haar ryp vrugte voor hom uit, hulle drink mekaar se melk. Baken: daar is ‘n voortdurende vermenging van taal wat spreek van seksuele liefkosinge en hartstog met taal wat dit het oor die vrugbaarheid van die land. Die vereniging van Inanna en Dumuzi is nie louter persoonlik of slegs gerig op nakomelinge nie, maar ook op die voortbring van weelderige plantegroei en ‘n oorvloedige oes vir die land en sy mense. Baken, 1999: 87-8: In hierdie Heilige Huwelik het die koning simbolies getrou met die godin Inanna wat deur die heilige priesteres van haar stad verteenwoordig is. Deur die huwelik gee die godin haar eggenoot die krag om leierskap en bestuur op hom te neem en vrugbaar te wees vir ander. Sy gee vir hom die troon, septer, staf, kroon en die belofte van goeie oeste en die genietinge van haar bed. As koning word Dumuzi geïdentifiseer met die oes van die land. Maar as sterflike eggenoot van die groot godin en as simbool van die plante moet hy sterf sodat die aarde en plante hulself kan vernuwe.

Ek sien in hierdie kombinasie van godin en koning ‘n erkenning van die noodsaak van seksuele verskil – die heerser mag manlik wees, maar hy moet sy voortdurende afhanklikheid van die groot godin, die vroulike beginsel, bly betuig, anders word die samelewing, wêreldbeskouing en waardes van die samelewing skeefgetrek. Vroulike en manlike energiestrome en seksualiteit moet in dinamiese ewewig bly en voortdurend op mekaar inspeel en mekaar vernuwe, anders verval ons lewenspatrone in ‘n steriele eensydigheid, ‘n monoseksuele onvrugbaarheid. Dit is van hierdie ontstellende moontlikheid, hierdie altyd teenwoordige gevaar, waarvan Dumuzi en Inanna se verhaal ons myns insiens ook vertel. Hoe waarsku die verhaal ons teen hierdie gevaar?

Ná ‘n onstuimige en pragtige liefdespel tussen Inanna en Dumuzi van meer as 9 bladsye, eindig hierdie deel van die mite op ‘n effens onrusbarende noot. Inanna sê ‘Nou is my soete liefde versadig’ en onmiddellik daarna sê Dumuzi ‘Laat my vry, my suster, laat my vry. Jy sal ‘n klein dogter vir my vader wees. Kom, my geliefde suster, ek wil na die paleis gaan. Laat my vry...’, waarop Inanna antwoord en die gedeelte afsluit met nog swaar benewelde liefdeswoorde. ‘n Mens kon hierdie effense breuk in die verhouding tussen die geliefdes kon mislees, en Dumuzi se haas om sy vrou onder sy pa se gesag te plaas en te begin heers, as dit nie was vir die skokkende wending wat die verhaal later neem nie. Net hierna volg die gedeelte ‘Die afdaling van Inanna’ [na die doderyk] wat begin met die beskrywing van hoe Inanna haar oor geopen het vir die Grote Daaronder (‘n metafoor van wyse aandag wat toegewy word aan iets), en toe hemel en aarde verlaat het om af te daal na haar suster Ereshkigal toe. Wel wetende dat sy heel moontlik nie mag terugkeer uit die onderwêreld nie, gaan Inanna nietemin klop aan die poort van die onderwêreld, omdat sy ag geslaan het op die hartseer van haar ouer suster, Ereshkigal wat getreur het oor haar eggenoot, die Hemelstier Gugalanna, wat gesterf het. Sy gaan om Ereshkigal by staan met die begrafnisrites. Ereshkigal reageer op haar suster se besoek deur haar eers stelselmatig te stroop van die me, of talente of magte waarmee sy haar geklee het, en deur haar dan oor te gee in die hande van die regters van die onderwêreld. Ereshkigal beskuldig en veroordeel vir Inanna en maak haar dood, en hang haar vlees op aan ‘n spyker in die muur. Sy word op wonderbaarlike wyse gered deur twee hermafroditiese figure wat Ereshkigal se hart versag deur saam met haar te treur. Maar hierdie keer vergesel die demone van die onderwêreld Inanna terug huis toe, want die doderyk staan niemand af as hulle nie iemand in die plek daarvan kan kry nie. Inanna weier om Ninshubur, haar getroue diensmeisie, of een van haar seuns aan die demone te gee in haar plek. Aldrie, toe Inanna op hulle afgekom het, was geklee in vuil saklinne wat daarop dui dat hulle in rou verkeer het oor Inanna se dood. Vergesel van die demone op soek na ‘n geskikte prooi, gaan Inanna na Uruk, en daar tref die geselskap Dumuzi aan, ‘geklee in sy skitterende me-gewade, en sittend op sy pragtige troon, en hy beweeg nie toe hy haar sien aankom nie’. Toe rig Inanna op Dumuzi die oog van die dood (soos wat Ereshkigal met haar gemaak het) en beskuldig hom en betig hom, en sê ‘Neem hom! Neem Dumuzi saam!’. Die galla of demone vermoor toe vir Dumuzi. Die res van die mite gaan oor Dumuzi se vlug voor die demone uit, wat hom telkens weer kry en doodmaak. Dumuzi se suster rou oor hom, en ook Inanna. Uiteindelik vind Inanna en Geshtinanna saam vir Dumuzi waar hy dood in ‘n sloot lê. Dan neem Inanna Dumuzi aan die hand en sê hy gaan na die onderwêreld vir ‘n halwe jaar, en sy suster, omdat sy daarvoor gevra het, vir die ander helfte. Toe gee Inanna Dumuzi oor in die hande van die ewigheid, en die mite eindig met ‘n lofsang aan Ereshkigal wat sê: Heilige Ereshkigal! Groot is u vermaardheid! Heilige Ereshkigal! Ek besing u lof!

Hier is natuurlik baie raaisels in die teks, maar vir my is Dumuzi se onverskilligheid oor die lot van Inanna ‘n waarskuwing oor wat kan skeefloop as manlike mag sy afhanklikheid van en relasie tot die vroulike van die godheid misken. Al is die stad Uruk deur ‘n man, ‘n koning, geregeer, het die welstand van die ganse kosmos afgehang daarvan dat hy sy afhanklikheid erken van die vroulike beginsel wat sy regering gelegitimeer en in stand gehou het. Ek lees ook graag die karakters van Inanna en Dumuzi as dat hulle metafories verwys na die materiële of natuurlike werklikheid en die politieke of gekonstrueerde werklikheid respektiewelik. Dumuzi se hubris en sy ontkenning van sy afhanklikheid van ‘n verhouding met Inanna, sy poging om haar te reduseer tot ‘n klein dogter van sy vader, maw om haar in die patriargale sisteem in te bind, is tekenend van ‘n mensgemaakte ideewêreld wat sy geworteldheid in, en sy afhanklikheid van, die aarde self, die skoon lug, drinkbare water, gereelde oeste en so meer, vergeet of ontken of onderdruk. Die Platoniese wêreldbeeld is ‘n latere herhaling van Dumuzi se fout – dit stel die ideële werklikheid op as die meerderwaardige teenoorgestelde van die konkrete wêreld van lyflikheid, versorging en vroue, en ontken die interafhanklikheid van die gees, die denke, die abstraksie, aan die een kant, en die liggaam, die materiële wêreld en die konkrete, aan die ander kant. Die Platoniese wêreldbeeld is ‘n latere herhaling van Dumuzi se fout, maar een wat ‘n lang skaduwee gooi oor die westerse wêreld en waarvan ons vandag globaal die wrange vrugte pluk. Uit Inanna se verhaal kan ons dus leer van die noodsaak van ‘n vermening van vroulike en manlike energieë vir die voortbestaan en floreer van die natuur, en dit bevestig ook ‘n verdere veralgemening wat ek maak, nl dat waar godinne ookal hoog aangeslaan was, was hulle omtrent altyd in ‘n grondige verhouding met die manlike beginsel – ‘n ekslusief vroulike god lyk vir my na iets wat nog nie bestaan het nie omdat die vroulike beginsel relasioneel van aard is. Ook uit Inanna se verhaal kan ons sien hoedat sy dit nodig vind om die paaie tussen hemel, aarde en onderwêreld oop te hou. In baie godsdienste is die figure wat die hekke tussen die wêrelde bewaak en beheer, vroulik – die meermingodin en talle watergodinne is hiervan ‘n voorbeeld, want die water is by uitstek ‘n medium van oorgang – vanaf hemel na aarde na onderwêreld, na hemel en aarde. Inanna se verhaal is ‘laat’ in die sin dat die onderwêreld alreeds iets van die karakter van die Christelike hel begin aanneem, en Ereshkigal is ‘n problematiese karakter. Maar die verrassende ding is dat die mite afsluit met ‘n lofsang aan haar – die mite probeer ook teruggryp na die tyd toe Inanna en Ereshkigal nog nie van mekaar afgesplit het nie, en met Inanna se besoek aan Ereshkigal en haar reëling mbt Dumuzi en Geshtinanna, sorg Inanna dat die kanale tussen die wêrelde weer oopgemaak word en dat die dood en die lewe weer met mekaar geïntegreer word as mekaar se noodwendige teenhange.

Verskillende hedendaagse feministe vanaf Hannah Arendt tot Mary Daly, Grace Jantzen, Selma Sevenhuijsen en Adriana Cavarero het al kritiek gelewer op die manlike simboliese orde se gelyktydige onderdrukking en ontkenning van, en preokkupasie met die dood en onsterflikheid. Theseus, Michael en Jesus moet almal die slang, die draak, die monster of minotaur, of die satan, vermoor en verbrysel en die dood of donkerte finaal oorwin sodat daar net lig oorbly. Terselfdertyd neem hierdie heroïese mannekultuur die dood as die maatstaf van hul lewens: ‘death defines its dominion in the wars, the sorrows, and the fury of heroes. It is always present insofar as it is always challenged, functioning as a measure of the challenger’s excellence’ (Cavarero, 1995: 21). Vir Parmenides (bespreek in Cavarero, 1995: 40 – 41), byvoorbeeld, is die idee van sy eie dood wat hy beskou as nie-syn, só bedreigend, dat hy dit probeer vermy deur hierdie wêreld, die ganse konkrete werklikheid, jukstaponeer met die domein van syn. Ons wêreld behoort tot die domein van nie-syn omdat dit word en verander en deur veelvoud gekenmerk word, en daarom bestaan ons werklikheid eintlik glad nie – soortgelyk en vooraf aan Plato se vertekening van die aarde en alle aardse oorspronge tot ‘n fout en ‘n illusie.

Teenoor hierdie nekrofilie of voorkeur vir die nie-syn, en lewe-tot-die-dood wat ons ook by Heidegger kry, stel die feministe en Inanna ‘n biofilie voor – ‘n woord wat nie eers in ons woordeboeke verskyn nie! – wat ‘n fokus op die lewe en op oorspronge en verhoudinge verteenwoordig. Maar dan nie ‘n fokus op die lewe wat die dood ontken nie, maar ‘n fokus op die lewe wat die dood as eg menslike handeling (Verhoeven, 2003: 291) verstaan. Wat die onderwêreld ook beskou as die moederskoot waaruit ons eens voortgekom het. Ereshkigal bied byvoorbeeld fonteine en grane aan as geskenke vir die twee hermafroditiese wesens wat haar kom vertroos. Hiervolgens kan ons sien dat die onderwêreld terselfdertyd die moederskoot is en die oorsprong van alles wat lewe, en dat om te sterwe is soos om in die moederskoot terug te keer, en dat alles, geboorte, lewe en sterwe, deel vorm van die web van lewe; dat die dood nie ‘n anomalie is nie. Picasso in een van sy skilderye stel voor dat ons die Minotaur uitlei en medelye aan hom bewys, want hy is Perseus se halfbroer, soos wat Ereshkigal (die donker vrou) ook Inanna se suster is. Hier is natuurlik baie eggo’s met Lacaniaanse sielkunde en die idee dat ons met ons ‘donker kant’ versoen moet raak.

Loiuse du Toit, 2007.

 

  african goddess

philosophical deliberations on the current need for diverse manifestations of the feminine of the divine

Been teaching philosophy at RAU (now UJ) over the past 11 years; PhD was on 'The Making and Unmaking of the Feminine Self' to be published by Routledge; currently thinking of ways to take philosophical ideas beyond academia and to extend my prospective partners in conversation; interested in extending knowledge about African (especially southern African) versions of the feminine of the divine, which are often associated with rivers, lakes and fountains. Passionate about saving the planet's capacity to support human life and about realligning our spiritual vocabulary and experience to help make this possible and to restore a respectful and mystical relation between humans and the environment. Also interested in alternative economic models and living patterns (new forms of community) in line with environmental sustainability. Would like to be part of projects to plant trees and re-establish wilderness, and also projects which rebuild human dignity and integrity through something like 'nature therapy'.

trans_end blog : african goddess


072-232-8601

Other online articles

Christelik-tradisionele en
eietydse mensbeskouing van die vrou

http://www.nuwe-hervorming.org.za/